Die leliefamilie, of Liliaceae, bestaan uit 15 genera en sowat 600 spesies blomplante in die orde Liliales. Hulle is eensaadlobbige, meerjarige, kruidagtige, dikwels bolagtige plante. Gemeenskaplike eienskappe sluit in groot blomme met dele wat in drie gegroepeer is: ses gekleurde of bont blomkelkblare (identiese kroon- en kelkblare) en ses stuifmeeldrade, asook ’n bostandige vrugbeginsel. Die blare is lynvormig en afwisselend gerangskik of kom in ’n rosetvorm by die basis voor. Die meeste spesies word van bolle gekweek, hoewel sommige wortelstokke het.
Die familie is in 1789 die eerste keer beskryf en het ’n groep geword waarin talle eensaadlobbige plante met kroonblare geplaas is wat nie in ander families gepas het nie. Baie genera word nou in ander families ingesluit en sommige selfs in ander ordes. Baie bronne wat ’n plant as "Liliaceae" klassifiseer, behandel die familie dus in ’n breër sin.
Spesies kom wyd voor, hoofsaaklik in gematigde klimaatstreke van die Noordelike Halfrond, en bestuiwing geskied deur insekte. Baie lede van die familie, veral lelies en tulpe, is sierplante wat vir hul mooi blomme gekweek en as snyblomme gebruik word. Sommige spesies is giftig en kan gesondheidsprobleme by mense en diere veroorsaak.
Die uiteenlopendheid van die eienskappe maak dit moeilik om ’n vorm te spesifiseer.
Die familie bestaan oor die algemeen uit eensaadlobbige, meerjarige, kruidagtige, bolagtige blomplante met eenvoudige wortelhare en saamtrekbare wortels.[3] Die blomme kan aan die stingel gerangskik wees en uit die basis ontstaan, as ’n enkele blom aan die punt van die stingel voorkom of ’n tros blomme vorm. Hulle het beide manlike en vroulike eienskappe en is radiaal simmetries.
Die meeste blomme is groot en kleurryk. Die kroon- en kelkblare is gewoonlik identies en is dikwels gestreep of veelkleurig. Hulle vervaardig nektar by hul basis. Die meeldrade kom gewoonlik in twee groepe van drie elk voor en die vrugbeginsel is bostandig. Die vrug is gewoonlik ’n kapsel (saaddoos) waarvan die saad deur die wind versprei word, maar soms ’n bessie waarvan die saad deur diere versprei word. Die blare is gewoonlik eenvoudig en lank, met are parallel tot die kante, en is apart of alternatief aan die stingel gerangskik. Hulle kan ook ’n roset by die basis van die stingel vorm.
Die blom van Nomocharis aperta, China.
Die blom van Calochortus catalinae, Kalifornië.
Die blare en bessies van Streptopus lanceolatus, Kanada.