Die witkwasjakkals (Canis adustus) is 'n sku en seldsame jakkals wat endemies aan Sentraal- en Suider-Afrika is.
Die kleur van hierdie minder bekende jakkals is grys tot vaalbruin terwyl die snoet donker is. Soos die naam aandui, het witkwasjakkalse 'n duidelike wit punt op hul stert, wat aan 'n kwas wat in wit verf gedoop is herinner. Verder het hulle ook 'n kenmerkende wit streep op elke blad, wat hulle hul Engelse naam, Side-striped Jackal ("sy-gestreepte jakkals"), gegee het. Volwasse witkwasjakkalse het 'n gemiddelde hoogte van 50 cm en weeg gemiddeld 9 kg. Die wyfies is effens kleiner as die mannetjies.
Hulle verkies 'n ruie, waterryke omgewing en vermy droë dele, oop grasvlaktes en bergagtige dele. Die soogdier is sku en hoofsaaklik naglewend. Hierdie jakkalse is karnivore en vreet klein soogdiertjies, grondvoëls, eiers en goggas.
Die wyfie is telkens nege weke dragtig, waarna vier tot ses kleintjies gebore word.
Die witkwasjakkals (Canis adustus) is 'n sku en seldsame jakkals wat endemies aan Sentraal- en Suider-Afrika is.