Die Wildesering of Rooisering (Burkea africana) is 'n boom wat van die noorde van Suid-Afrika tot in midde-Afrika voorkom. Die middelgrootte, bladwisselende boom behoort aan 'n subfamilie van die peulplante, naamlik die Caesalpinioideae. Die genus is vernoem na Joseph Burke, 'n 19de-eeuse botanis en plantversamelaar.
Dit is wydverspreid in tropiese Afrika, en is inheems aan Tsjad, Soedan, Tanzanië, Uganda, Kameroen, Sentraal Afrikaanse Republiek, DRK, Benin, Burkina Faso, Ivoorkus, Ghana, Guinee, Mali, Niger, Nigerië, Senegal, Togo, Angola, Malawi, Mosambiek, Zambië, Zimbabwe, Botswana, Namibië en Suid-Afrika.
Dit het tipies 'n spreidende en redelik plat blarekroon. Die blare is dubbelveervormig saamgesteld, silwerig-behaard maar later haarloos. Die blomme is roomwit, geurig, en in hangende raseme van tot 30 cm lank.
Die kernhout lewer duursame, insekbestande hout met 'n redelik fyn, golwende grein wat wissel van donkerbruin na rooierig bruin. Dit word gebruik vir blokkiesvloere en fyn kabinet- en meubelskrynwerk. Die bas is toksies, ryk aan alkaloïde en tanniene, en is al vir leerlooiery aangewend. Verpoeierde bas word gebruik om visse in waterpoele te verlam.
Die loof is voedsel vir die larwes van twee soorte pouoogmotte (familie Saturniidae), naamlik Rohaniella pygmaea en Imbrasia forda.