Die swartneusrooibok (Aepyceros melampus petersi) is 'n wildsbok wat in die noordweste van Namibië voorkom. Dit staan ook bekend as die swartgesigrooibok.
Die boksoort verskil van rooibokke omdat hulle 'n swart bles op die gesig het, die stert is ruier en langer en die lyfkleur donkerder. Hulle het ook nie die rooi skynsel van rooibokke nie.
Die kleur op die rug is dofbruin. Halfpad teen die sye af, tussen die pens en die dofbruin rug, is 'n strook ligte vaalbruin hare. Op die gesig is die kenmerkende swart bles en agter teen die boude is vertikale swart strepies. Die wange en ore is rooibruin.
Die ramme weeg tot 63 kg en die horings is gemiddeld 46 cm lank. Die rekord is 67,31 cm. Die ooie weeg tot 50 kg en het nie horings nie. Die ooie het tussen Desember en Januarie een lammetjie na 'n dratyd van sowat 6½ maande.
Hulle natuurlike vyande is die jagluiperd, luiperd, leeu, wildehond en gevlekte hiëna. Die boksoort verkies ruie rivierplantegroei begrens deur oper bosveld. Hulle vorm troppies van 3 tot 20 diere wat normaalweg bestaan uit 'n ram en sy jong ooie. Ander ramme loop alleen of vorm ramtroppe. Dit word deur die IUBN geklassifiseer as 'n kwesbare spesie.
Swartneusrooibokooi met haar kalf in die Nasionale Etoshawildtuin, Namibië
Die swartneusrooibok (Aepyceros melampus petersi) is 'n wildsbok wat in die noordweste van Namibië voorkom. Dit staan ook bekend as die swartgesigrooibok.