Die witrenoster (Ceratotherium simum) is een van die twee renosterspesies wat in Afrika voorkom (die ander een is die swartrenoster). Hy het 'n wye mond met 'n breë bolip wat hy gebruik om te wei en is die sosiaalste van die renosterspesies. Dit is die volopste renostersoort in die wêreld.
Daar is twee subspesies: die Suidelike witrenoster, waarvan daar aan die einde van 2010 'n beraamde 20 170 individue in die natuur voorgekom het, en die Noordelike witrenoster, wat baie skaars is.
Die noordelike subspesie het waarskynlik slegs enkele individuele renosters oor. Vier daarvan is in 'n natuurreservaat in Kenia. Daar is berigte van 'n paar moontlike Noordelike witrenosters in 'n afgeleë deel van Suid-Soedan, alhoewel dit nog nie bevestig is nie. In April 2003 was daar nog 30 renosters in die Garamba Nasionale Park in die Demokratiese Republiek van die Kongo. Hulle aantalle het egter vinnig afgeneem na 'n groot toename in stroping. In 2006 is daar nog vier van hulle gesien, maar in die jare daarna is daar geen tekens gekry dat daar nog renosters in die gebied is nie. Daarom word dié bevolking beskou as uitgesterf.[2][3]
'n Volwasse witrenoster het gemiddeld 'n massa van 2 000 – 2 400 kg (bulle) en 1 400 – 1 600 (koeie). Hy het 'n skofhoogte van 1,8 m. Sy voorste horing kan tot 158 cm lank word en sy tweede horing tot 56 cm. As die witrenoster begin storm, kan hy 'n spoed van 40 km/h behaal.[4][5]
Die wyfie is vir 18 maande dragtig, waarna sy aan 'n enkele kalfie geboorte skenk. Witrenosters het 'n moontlike lewensduur van 45 jaar.
Alhoewel die dier "witrenoster" heet, is hy hoegenaamd nie wit nie, maar eerder donkergrys. Dit is ook nie moontlik om die witrenoster van die swartrenoster te onderskei op basis van kleur nie, maar eerder deur hulle bolippe: terwyl die witrenoster 'n breë bolip het waarmee hy gras vreet, het die swartrenoster 'n gepuntde bolip waarmee hy blare van die takkies trek.
Die witrenoster (Ceratotherium simum) is een van die twee renosterspesies wat in Afrika voorkom (die ander een is die swartrenoster). Hy het 'n wye mond met 'n breë bolip wat hy gebruik om te wei en is die sosiaalste van die renosterspesies. Dit is die volopste renostersoort in die wêreld.